‘n Blits storm op die eiland Koh Yao Yai. 30 Minute daarna sou jy nie eens weet daar was ‘n storm nie.

Hoekom is Thailand die beste wittebrood bestemming?

Hoekom is Thailand juis die beste wittebrood bestemming? Wat is ‘n perfekte wittebrood? ‘n Romantiese vakansie wat aan julle albei se begeertes voldoen is nie maklik om te reël nie. Boonop wil jy seker maak dis iets besonders – vol nuwe ervarings wat julle as pas getroudes kan geniet en wat julle verwyder van die stres en verantwoordelikheid van die bekende. Jy wil nie graag jou baas op die strand raakloop nie wil jy? En was jou ander-helfte nie al 5 keer in Knysna nie?

‘n Oorsese wittebrood is dus ‘n goeie idee as julle saam die geldjies kan wegsit vir vlugkaartjies. Maar hoe kies jy die regte plek? Europa is so duur, en dan speel die weer dalk nie saam nie. Wat van Zanzibar? Jou Instagram feed is toegeplak met vriende en familie se Zanzibar of Mauritius foto’s. Is daar ooit ‘n strand kolletjie wat nog nie deur ‘n vriendin en haar forever-after afgeneem is nie?

Die dilemma is duidelik. Is daar ‘n plek waar julle nog nie albei was nie? En boonop luuks maar bekostigbaar is? Waar is daar ‘n bestemming wat wonderlike weer, ysblou see en veilige wit strande het? Is daar ‘n paradys wat nog nie deur elke skoolvriendin afgeneem is nie?

Natuurlik – dis Thailand! Ons wittebrood daar was fantasties! En daar is nog soveel nuwe ervarings wat lê en wag. Thailand is die beste wittebrood bestemming en herdie veelsydige land kan al julle beplannings uitdagings mooi uitstryk. En daarom kan dit die perfekte wittebrood vir julle bied. Glo my, ons het 2 maal wittebrode in die Thailand gehou. So kom ek deel met jou 5 redes waarom Thailand die beste wittebrood bestemming vir Suid Afrikaners is.

Hoekom Thailand die beste wittebrood bestemming vir Suid-afrikaners is?

Jou Thailand wittebrood kan luuks maar bekostigbaar wees

Die grootste dilemma om ‘n wittebrood te reël, is hoe om dit bekostigbaar en steeds spesiaal te maak. Thailand het ‘n unieke manier om albei met min moeite te lewer. Want die natuurskoon is so mooi en daar is baie verblyf, restaurant en toer opsies. Die volgende 6 redes is dus hoekom Thailand die beste wittebrood bestemming is.

#1 Besonderse verblyf opsies wat elke sak pas

Thailand is hoofsaaklik ‘n toeriste land, en dus is gaste se begeertes hoog op hulle lysie van prioriteite. Stede en eilande het besonderse hotelle, oorde en Airbnb’s wat in kompetisie is met mekaar, en die resultaat is goeie pryse en gereelde winskopies.

Ons het altyd Agoda.com dopgehou vir winskopies, of het aangeteken vir hulle eposse wat ons op hoogte hou van weeklikse afslag op verblyf opsies. Daar is gereeld oorde wat hulle pryse met die helfte sny gedurende weeksdae en in die lae seisoen.

Die lae seisoen, April-September, is dus die perfekte tyd om Thailand as die beste wittebrood bestemming te kies, want julle kan sonnig, beeldskoon weer geniet. Thailand het nie regtig ‘n winter nie. Die lae seisoen is net minder besig want Amerikaanse en Britse toeriste val nie die land toe gedurende die maande nie. Dus kan julle ‘n beeldskone wintertroue geniet en ‘n sonnige wittebrood ervaar-teen helfte van die prys.

Luukse oorde om dop te hou vir afslag.

Die volgende oorde is besonders luuks en daar is gereeld groot afslag op hulle suites: The Marriott Hotel Group, Santhiya Tree Resorts, en Amantara.

Thailand het ook ‘n magdom goedkoop verblyf opsies wat vir ons Suid-Afrikaners steeds besonders is. ‘n Lekker maar sakpas opsie vir ‘n wittebrood is om ‘n tradisionele vissershutjie te bespreek. Die hout huisies op hoë stelte word oor die water gebou, en die rou en eenvoudige style is uniek aan die see-sigeuners wat die land se see waters bewerk . Om koel te bly in die tropiese weer, word die huisies se hout vensters, deure en soms mure, heeltemal oopskuif om die see briesie in te laat.

Ons het ‘n vissershuisie op Koh Lanta bespreek en dit was so lekker om op die hangmat te lê en bo die hout visserskajuitjies uit te kyk. Snags wieg die klank van die see water wat onder die huisie deurloop jou saggies aan die slaap. Dit is ‘n goeie opsie vir verblyf wat nie jou sak gaan ruk nie.

Thailand was vir ons die beste wittebrood bestemming

Ons het juis ons wittebrood gereël sodat ons die luuks en die eenvoudige albei kon geniet. Ons het op Koh Yao Yai in die 4-ster Santhiya Tree Oord gebly. Ons kamer was uit hout gekerf en het ‘n gestileerde hout balkon gehad met ‘n bad wat oor die see uitkyk. Die oord het ‘n privaat strand en al die fasiliteite wat jy vir ‘n wittebrood soek – see, infinity-pools, tropiese-ontbyt buffets, winkels, ‘n gim en die mooiste tuine en ontspan areas. Uit persoonlike ervaring beveel ek die oord hoog aan.

As jy wel voel jy soek verblyf na aan die gehalte wat Athena of Zeus sou verwag, is Thailand steeds die beste wittebrood bestemming as gevolg van die land se unieke 5-ster oorde. Byvoorveeld – die Keemala Resort in Phuket! Die oord se suites staan bo die oerwoud se bome uit, elkeen se ontwerp geïnspireer deur die skoonheid en privaatheid van neste in die woud. Verbeel jou ‘n grasdak suite met oopskuif vensters en ‘n dek wat ‘n privaat bad en swembad het. Nou, verbeel jou die suite word gelig tot bo die bome in die berg, en al wat jy sien is oerwoud, en vêr langs die see. Luuks, privaat en die perfekte mikpunt vir ‘n goue wittebrood.

Behalwe vir die verskeie verblyf opsies, is daar ook baie ander redes dat Thailand so ‘n droom wittebrood bestemming is. Kom ons gesels oor lekker eet opsies – my gunsteling!

A picknick of street-food  on Koh Lanta, Thailand
Koh Lanta se Moslem dorpies het die lekkerste stalletjies met soetighede! Ons het ‘n mandjie gevat en allerhande lekkernye gekoop, en dit op die strand geniet

#2 Romantiese etes vir goedkoop

Thailand het ‘n groot verskeidenheid restaurante en kos-kroeg opsies – teveel om almal te besoek (maar ek gaan wel probeer). Die land het 1430 eilande, en die toeriste-eilande het elkeen ‘n magdom strande omring met palm en kokosneut bome vir skadu teen die warm son.

Met die perfekte uitsig op elke eiland, het strand-kroeë en restaurante oral teen kuslyne, berg-hange en oerwoude begin opspring. Kwaliteit en goeie pryse loop dus hand-aan-hand met die stywe kompetisie vir toeriste se geldjies. En die kreatiwiteit en smaakvolle dekor maak vir besonderse restaurante. Dus het dit al die eet-opsies vir die beste wittebrood.

Op Koh Tao het ons ‘n steak ete geniet teen minder as R300 vir ons albei saam, en ons tafel? Poewe op ‘n hout dek, onder ‘n reuse boom bedek met fee-liggies. Soos die eilande, het elke ander eiland moderne strand-restaurante met gemakstoele, poewe en selfs swaaie voor teen die water. Vrolike eiland musiek nooi jou om aan te sit, en as dit nie genoeg is nie, sal die vars vis wat op die kole gebraai word, jou verseker oorreed om aan te sit vir aandete.

See kosse en Thai disse is tussen R50-R120 rand ‘n dis, en alles baie smaakvol, geurig en vars. As julle nog goedkoper wil eet kan julle noedels, roerbraai, rys en hoender of vars vrugte by straat stalletjies koop en dit op die strand geniet. Julle kan ook by die stalletjies se plastiek tafeltjies sit en ‘n tweede bakkie bestel. Sulke bakkies straat kos kan tussen R15-R30 rand wees en is soms baie lekkerder as restaurantkos.

Eilande soos Koh Samui, Koh Chang en Koh Phi Phi, om net ‘n paar te noem, het ook 5-ster restaurante wat 5-10 gang etes wat deur bekende sjefs voorberei word, aanbied. Die etes is ook besonders omdat die tema en hoofbestanddeel gewoonlik ‘n plaaslike smaak is, soos kokosneut, Thai Basil Kruid of see anemone. Die restaurante is gewoonlik op besonderse plekke geplaas, en dus speel albei die asemrowende uitsig en smaak sensasies ‘n rol om die oomblik romanties en onvergeetlik te maak.

So ‘n Thailand wittebrood is klaar besonders as gevolg van die baie kos en restaurant opsies wat enige sak sal pas. Gooi die skaal weg en eet lekker en baie!

#3 Spaar op visa onkostes en toer beplanning

Nog ‘n rede hoekom Thailand ideal is vir ‘n wittebrood, is die gemak van ‘n visa kry – as jy langer as 30 dae sou wil bly. Maar as julle wittebrood vir minder as 4 weke gaan wees, het jy nie eens ‘n visa nodig nie. Suid Afrikaners kan visa-vry vir 3o dae in Thailand toer, as hulle deur ‘n internasionale lughawe arriveer. Bespreek dus julle kaartjies van Suid Afrika na Sawanabumi lughawe, in Bangkok.

Verder moet jy net jou kaartjie terug klaar bespreek hê, ‘n bespreekte reisplan met akkommodasie gereël hê en julle paspoorte moet geldig wees vir meer as 6 maande na die vertrek datum. Onthou dat Agoda.com gereeld verblyf opsies het wat kansellasies toelaat, so as julle sekere verblyf eers later wil bespreek, kan julle maklik sekere besprekings kanselleer en ‘n ander opsie kies.

‘n Laaste vereiste is om R5000 per persoon beskikbaar te hê vir kos ens. Dis 10,000 baht en baie minder as wat julle moet beskikbaar hê vir ‘n Amerikaanse of Britse Visa.

As jy wel ‘n visa wil kry is die proses baie maklik en vat gewoonlik minder as 7 dae. Jy kan selfs daarvoor aansoek doen deur die Thai Ambassade te kontak, of deur ‘n reisagentskap te werk.

Dus is Thailand een van die maklikste lande om as Suid Afrikaners binne te gaan, en die stres oor visas reël hoef nie eens deel van julle wittebrood storie te wees nie.

Reël ‘n romantiese ete

Sommige restaurante bied romantiese strand etes vir wittebrood paartjies. Bel vooruit en vra of julle oord iets spesiaal vir julle kan saamstel.

Thailand bied besonderse ervarings vir ‘n romantiese wittebrood

Vir ons twee was lewe in Thailand veilig en sorgvry, en nuwe ervarings het deel geraak van ons elke dag. Selfs na 5 jaar in de land, het ons steeds nuwe, lekker dinge ontdek en ervaar.

Op ‘n wittebrood wil julle juis nuwe ervarings saam ontdek, wat julle vir die res van julle huwelik kan herdenk en oor lag. Hier onder lys ek die dinge wat Thailand die ideale wittebrood- bestemming vir Suid Afrikaners maak.

#4 Thailand se unieke kultuur skep ‘n ideale nuwe ervaring.

Thailand se vriendelike, boeddhistiese kultuur en interessante geskiedenis word selfs deur die moderne dag ingevleg. Oral waar jy gaan is daar elemente wat verbind word aan die boeddhistiese kultuur en die koninklike familie – iets wat ons nooit in Suid Afrika teëkom nie.

Van roei tussen die wortels van mangrove bome, tot geheime opelug grotte ontdek – die land wemel van besonderse ontdekkings wat julle altyd sal onthou.

#5 Thailand is ‘n besondere veilige wittebrood bestemming

Thailand is so besonders omdat dit so veilig is. Jai di beteken goeie hart, of vriendelike hart in die Thai taal en die eienskap word hoog geag. Verder is eerlikheid ook belangrik, en om iets te vat of te steel of om iemand ‘n onreg aan te doen is net nie iets wat meeste Thai mense sou oorweeg nie.

In die 5 jaar wat ons daar gebly het, kon ek maklik my beursie, skootrekenaar of selfoon op ‘n koffietafel los om gou badkamer toe te hardloop. Dit sal daar wees wanneer ek terugkom. Dis ook nie vreemd om geld op ‘n openbare plek te sien lê nie. As dit nie joune is nie, los jy dit tot die eienaar dat dit kom haal.

Die veiligheid maak die land ook ‘n gunsteling vir dames wat alleen wil toer. Ons het gereeld enkel-toerende dames ontmoet wat weer en weer terug keer na Thailand.

En ‘n eiland wittebrood is besonders veilig! Meeste oorde sorg vir kluise in die kamers, en die toeriste polisiekantore is altyd maklik om te kry.

Die land het ook nie besonderse gevaarlike diere of natuur rampe nie. Plekke soos Phuket, waar daar al wel tsunamies was, is goed voorberei vir ‘n moontlike ramp, en oral sal jy bordjies sien met instruksies oor wat om te doen as so ‘n ramp sou plaasvind.

Dus sal ‘n wittebrood in Thailand besonders sorgeloos wees want julle kan die besorgdheid oor veiligheid in Suid Afrika los.

#6 Die beplanning is maklik – julle kan dit vinnig aanpas as nodig

Thailand is grootliks ‘n toeriste bestemming, so vir elke behoefte is daar meer as net twee of drie toer maatskappye. Dit maak beplanning besonders gerieflik. Ons het ons wittebrood beplan, bespreek en bevestig binne een middag. Ek besef ons kennis van 5 jaar het dit makliker gemaak in ons geval, maar selfs sonder die kennis kan julle ‘n magdom inligting aanlyn kry en apps soos Agoda.com maak dit baie maklik om te bespreek.

Binnelandse vervoer is maklik om te reël, en julle kan ‘n privaat bestuurder bespreek om julle op die vasteland rond te ry. Maar treine, minibus taxi’s en binnelandse vlugte is ook volop en baie bekostigbaar – veral as julle vanaf Bangkok of Chiangmai will vertrek. Vir binnelandse vlugte, loer na Air Asia, Nok Air en ViaJet Air vir bekostigbare binnelandse vlugte.

Om van een eiland tot ‘n volgende te gaan is ook maklik, en kaartjies kan sommer by die pier gekoop word- veral in die besige seisoen. Maar as dit buite seisoen tyd is, sou dit beste wees om vertrek tye vas te stel, want die bote en veerbote verminder hulle ritte as daar minder toeriste is. Ek beveel aan dat julle met julle oord, gastehuis of Airbnb gasheer bevestig aangaande bootrit tye in die lae seisoen. Lees gerus meer oor die hoog en lae seisoen in die volgende artikel.

Omdat daar ‘n magdom vervoer opsies is, en vervoer redelik goedkoop is, kan julle altyd julle toer aanpas as julle besluit om langer iewers te bly. Maak by elke eiland seker waar julle verkore bootrit kantoor is en vra vir hulle wat die boot tye is. Hulle sal vir julle kan bevestig of julle vroegtydig moet bespreek, en of julle kan wag tot die dag voor julle wil vertrek. Die laas genoemde opsie is gewoonlik beskikbaar en dan kan julle rustig bly en dalk nog julle tyd op ‘n spesifieke eiland, verleng.

Romantic honeymoon photo on Koh Yao Yai, Thailand
Luuks en romantie – Koh Yao Yai is ‘n gunsteling vir wittebrood hou – en tog meer onbekend onder Suid Afrikaners

Die beste wittebrood opsies waarvan jy nie weet nie

Die wêreld weet dat Thailand mooi is, maar die skoonheid wat oor en oor gewys word is altyd dieselfde. Krabi is pragtig en die rotsformasies op Koh Phi Phi maak altyd vir mooi foto’s. Maar wat van Koh Yao Yai se reusagtige berge waarin waterbuffels soos skadu’s wei, of die akwamaryn water van Koh Lipe? Min Suid-Afrikaners weet van die mooier eilande wat saggies weggesteek word van Instagram-roem.

In die suide grens die land aan Maleisië, en die skoonheid en ysblou water van die laasgenoemde land word gedeel met die land en eilande wat naby daaraan lê. Verder word Thailand omsingel deur ander fassinerende lande wat hulle erfenis en tradisies met Thailand deel in die vorm van klip tempels, hotelle en oorde hoog in die berge en vegan restaurante gebou hoog bo die blou see – net golwe en verlore eilande as jou uitsig.

Wat die eiland altyd hoog op ‘n wittebrood lysie sit, is die unieke skoonheid wat hulle bied. Ek som ons gunsteling 4 opsies op. Koh Tao, Koh Yao Yai, Koh Yao Noi en Koh Lipe.

Koh Tao vir ‘n aktiewe eiland wittebrood

Koh Tao is klein, bekostigbaar en tref die perfekte balans tussen natuurskoon, avontuur en gerieflikheid. Met meer as 17 prag strande en die veiligste water, is die eiland perfek vir ‘n paartjie wat baie wil doen op hulle wittebrood. Ons gunsteling aktiwiteit is om ‘n kano te vat en van snorkel-strand tot snorkel-strand te roei. Die plesier van alleen in die middel van die see wees met jou geliefde is so besonders. Meeste van die strande het oorde met restaurante, so julle kan ‘n roei-blaaskans vat en middagete geniet voordat julle verder vaar.

Duik en vry-duik is ook baie bekende aktiwiteite op die eiland en jy sal orals paartjies en vriende raakloop wat vir julle oor hulle eerste duik wil vertel.

Boonop het die eiland van die mooiste chalet’s wat teen see-kranse gebou is, sodat julle optimale privaatheid kan geniet, sonder om julle uitsig prys te gee. Bespreek hier as julle albei ‘n liefde het vir die see en dinge doen, en as julle regtig eiland lewe wil ervaar. Dis ons gunsteling eiland.

Koh Yao Yai en Koh Yao Noi vir ‘n rustige, luukse eiland wittebrood

As julle eerder ‘n luukse, privaat wittebrood soek waar julle rustig saam lê en teug aan ‘n kokosneut ( of bier) omring deur stilte, woude en wit strande, dan is Koh Yao Yai en Koh Yao Noi die perfekte keuse. Yai beteken groot en Noi beteken klein, so die name word vertaal na die Groot Lang Eiland en Klein Lang Eiland. Die twee prag eilande lê so na aan mekaar dat hulle na een lyk wanneer dit laag water is.

Koh Yao Yai is een van die mooiste eilande wat ons al gesien het en ook een van die eilande met die minste toeriste. Die eiland bestaan uit reuse woud bedekte berge en heuwels met klein Moslem dorpies weggesteek in die voue van die heuwels. Wat die eiland so besonders maak is die luukse oorde wat naby of op die wit strande gebou is, omsingel deur woud, kranse en blou, blou see.

Die eiland het ook ‘n lang, gladde teerpad wat deur sy middel sny en daar is niks so lekker soos om ‘n motorfiets (of side-kar) te huur en deur die eiland se skoonheid te ry sonder om ‘n siel vir kilometers te sien nie. En dan draai jy terug na jou oord en spring in jou privaat swembad of vind ‘n verlate strand en swem en baljaar saam in die tropiese stilte.

Koh Yao Noi is kleiner maar meer uitgebrei. Die eiland het ook prag strande maar is meer besig en het verskeie restaurante en markte vir die wat lus is vir koop en eet. Ons voorstel sou wees om op Koh Yao Yai te bly en dan met ‘n bootjie vinnige oor te vaar na Koh Yao Noi vir een of twee dae. Die ongerepte skoonheid van Koh Yao Yai het ek nog nie iewers anders teë gekom nie.

Koh Lipe, die Mauritius van Thailand

As jy die perfekte Instagram wittebrood wil hê, met water so blou dit lyk geredigeer, met strand-partytjies en snorkel toere, dan stel ons julle bekend aan Koh Lipe, wat grens aan Maleisië.

Die eiland is ons tweede gunsteling en vir meeste mense, die ideale en beste wittebrood bestemming. Bekostigbaar, veilig en beeldskoon, die eiland is na aan perfeksie, en tog sien ek dit min op Suid-Afrikaners se wittebrood foto’s pronk.

Die eilande het een of twee prag oorde, maar ons gunsteling ervaring op die eiland was die Castaway Oord, met sy eenvoudige maar gerieflike hout chalets wat tussen die kokosneut bome gebou is. Die oorde omhels die eiland lewe met ‘n dek restaurant wat in vlakke bo die strand gebou is.

In die oggend is die helder-oranje kleure van die monnike se gewaad besonders mooi langs die ysblou van Koh Lipe se see. Geniet ‘n koppie koffie en eiland-muesli en word saam met die eiland, in die middel van die see wakker.

Koh Lipe island has the bluest water in Thailand
Koh Lipe- Die Mauritius van Thailand.

Besonderse idees vir ‘n droom wittebrood.

Thailand het verskeie toer opsies wat ek nog in diepte gaan deel in die toekoms. Maar vir ‘n besonderse wittebrood stel ek twee voor.

Laat ‘n fotograaf julle perfekte Thailand wittebrood vasvang

Omdat Thailand sulke mooi strande, oerwoude en tempels het, is dit die perfekte agtergrond vir ‘n romantiese fotosessie. ‘n Wittebrood fotosessie is baie meer ontspannend en meeste Thai fotograwe bied ook ‘n begeleide toer saam met die fotosessie aan.

Airbnb het verskeie sulke ervarings beskikbaar, en natuurlik sal die ervarings eerlike terugvoering op die toepassing kry. Maar ek beveel graag vir Natasha Gillette aan, omdat my eie ondervinding met haar besonders en gemaklik was.

Loer gerus hier na een van haar wittebrood fotosessies! Die tempels en kleure maak vir baie besonderse kiekies! En omdat sy van Thai (en Skotse) nasionaliteit is, verstaan sy hoe om die foto’s te neem sonder om disrespek aan die tempel of monnike te toon.

En die voordeel? Julle ongelooflike wittebrood is vasgevang in die mooiste en mees unieke foto’s. Perfek vir julle nuwe lewe saam en om te bewys dat Thailand die beste wittebrood bestemming op julle en ons lysie is.

Die ideale wittebrood bestemming kan julle iets nuuts leer

Natuurlik glo ek en my man dat paartjies wat saam leer, saam bly. En ‘n wittebrood in Thailand is die ideale plek om ‘n nuwe, prettige stokperdjie aan te leer. So hoe is Thailand die beste wittebrood bestemming vir iets nuuts leers? Die ongelooflike kwaliteit van skubaduik skole natuurlik!

‘n Beginner skubaduik kursus neem gewoonlik minder as 3 dae om te doen, en die pragtige dinge wat julle saam onder die water sien sal julle vir dae lank laat saam lag en gesels oor die ervaring.

Wat van saam kook! Thailand het soveel unieke kos kursusse wat julle saam kan doen. Een van ons gunsteling Thai kosgeregte is die Thai-grondboontjie-hoender-kerrie, Massaman. Die smelt-in-jou-mond kerrie is ongelooflik lekker, en met bietjie leiding, maklik om te leer maak.

As julle in Bangkok is, beveel ek die Pink Chill Cooking Class aan. In Koh Tao loop Thai Cooking With Joy vêr voor as dit kom by aanbevelings.

Boonop kan die gereg iets wees wat julle gereeld in Suid Afrika saam kan kook! Noem dit julle “couples speciality dish” en maak al julle vriende en familielede jaloers met julle kook vernuf.

Om Thailand as die beste wittebrood bestemming op te som

Thailand is ‘n warm, vriendelike en romantiese land wat vir julle twee ‘n veilige en romantiese wittebrood bestemming kan wees. Dis bekostigbaar, maklik om te reël en iets heel anders.

So, wanneer julle koppe bymekaar sit oor julle wittebrood moontlikhede, kyk gerus na Thailand en al die wonderlike dinge en plekke wat die land bied. Ons glo vas dit is die beste wittebrood bestemming vir Suid Afrikaners!

Early morning sunrise on Koh Lipe island, Thailand
Sonsopkoms op Koh Lipe