Thailand op die WêreldKaart

Voor ek verder spog, kom ons kyk na die mees basiese inligting oor Thailand. Siam, wat nou bekend staan as Thailand (onthou jy die fliek “The King and I”? Dis gebaseer op die koninklike familie van Thailand baie jare gelede) is ‘n land met baie besonderse kulture en verskillende etniese groep, te danke aan die puik geografiese posisie wat die land inneem. Geflank deur Kambodja en Viëtnam in die Weste, Laos in die Noorde, Burma in die Noord-ooste en Maleisië in die Suide, is Thailand ryklik geseën met tradisies en rituele van al hierdie lande. Die land se ligging beteken ook dat dit tropies is en baie plesier bied vir see-liefhebers.

Bekend vir sy besonderse verskeidenheid eilande, spog Thailand met blou waters van die Andaman See en die Golf van Siam, beide gevul met kleurvolle koraalriwwe, en tropiese visse. Die water het baie minder haaie as die water in Suid Afrika en die temperatuur is besonders warm, so water aktiewiteite is beslis ‘n rede om hierheen te toer. Die ander rede is die besonderse kultuur en taal.

Straatkos mark in Phuket

Godsdienste In Thailand

Thailand se kultuur is sterk beïnvloed deur die vreedsame Boeddhistiese godsdiens wat deur die koninklike familie gevolg word. Nietemin, as gevolg van die Thai mense se barmhartigheid en die Boeddhistiese fondasie van vrede en liefde, word alle godsdienste hier gerespekteer en selfs beskerm. Dus sal jy nie net die reuse stoepas orals sien nie, maar ook katolieke kerke en nonne wat by die mark inkopies doen. Maar die invloed van Boeddhisme is wat die land soveel kulturele diepte gee. Met die sonopkoms word die grys strate, of eiland wandelpaaitjies, betree deur die kaalkop manne, geklee in helder oranje. Die rituele van aalmoese kollekteer verhelder elke oggend se mark uitstappie vir die van ons wat sulke rituele nie gewoond is nie.

n Land Van Groot Feeste

Die invloed van die verskeie godsdienste beloof ook vir gereelde, kleurvolle feeste en vakansiedae vol pret, sang en glimlaggende kindertjes. Die grootste feeste is Songkran, of Thai Nuwe Jaar, waar oud en jonk hulle innerlike kind laat uitkom, om elke ding wat beweeg met koue water natte gooi. Dit staan bekend as die wêreld se grootste waterfees. Dan is daar ook Loy Kraton, waar duisende mandjies met kerse in die riviere afgestuur word. Musiek, families en groot pret word by elke fees beloof.

Spesifiek gedurende Songkran sal Thai liedjies oor tuk-tuk luidsprekers bulder en families jou gretig seën deur geurige, wit klei op jou wange en voorkop te smeer. Hou die smeersel aan – dit beskerm teen die warm son en ruik heerlik. Hulle lag dan en hou ‘n vrolike gesprek met jou in hulle hakkel-taal.

Die Thai Taal

Altans, dis hoe ek die taal beskryf. Thai mense praat Thai, wat deel vorm van die Kai Dai taal familie. Die belangrikste om te weet is dat dit ‘n toontaal is, met ‘n baie eenvoudige sinstruktuur, maar ingewikkelde tone en woordeskat. Dus leer baie toeriste net die basiese woorde, en gebruik verder ‘n vertaal toepassing vir vrae en kommunikasie. Al word Engels in die skoolkurrikulum geleer, is die gebruik van die taal baie basies. Om aan te las daarby, is dit ‘n basiese beginsel van Thai kultuur om vernedering te vermy, dus sal hulle eerder heeltemal Engels vermy as om dit sleg te praat. Dis omtrent ‘n sintuiglike ervaring vir ‘n westerling, want die kort, krapperige klanke van die Thai taal en die vloeinde symboliese skrif is oral, en geen taal in Suid Afrika klink so nie. Ek raai jou aan om ‘n paar basiese woorde te leer, maar moet nie dat die taal verskil jou afsit daarvan om die land te besoek nie! Dis heerlik om ook ‘n nuwe taal te leer. Boonop is Afrikaans-sprekendes nie volop in Asië nie, so jy kan lekker diep gesprekke met jou reismaat geniet, sonder om jou woorde te tel want niemand sal julle verstaan nie. Geheime trein gesprekken met my man was altyd groot pret want ons kon diep ding in die openbaar bespreek. Byvoorbeeld as ek baie van iemand se uitrusting gehou het, kon ek dit vir my man sê, sonder dat die persoon weet ons gesels van hulle, of dat hulle ongemaklik voel.

Let wel,Thailand is ‘n rustige, vreedsame land met minder streng reëls as Sjina of Singapoer, maar ‘n geraas in die openbaar word nie altyd geduld nie. Jy mag dalk net gevra word om die trein, tuk-tuk of taxi te verlaat. So praat hard op jou eie risiko. Respek vir jou medemens word gewaardeer – spesifiek in die openbaar.

Vervoer

So gepraat van rondrits, Thailand se publieke vervoer is goed georganiseer. Bangkok, die hoofstad, is baie bekend vir sy puik, veilige en vinnige vervoer metodes, soos die BTS Lugtrein (sê net BTS wanneer jy daar toer) en die Metro trein (MRT). Die trein het stasies dwarsdeur die groot stad, en is blitsvinnig, met treine wat elke 10-15 min ry. Bangkok het druk padverkeer, so die trein opsies maak reis in die stad maklik en vinnig! Beide treine het verkoelingstelsels en is gerieflik, maar ek is spesifiek lief om die BTS te ry, omdat ek die kleurvolle en besonderse stad kan sien soos ek verby flits hoog bo die pad.

Busse is ook volop in Thailand en as jy weet watter bus om te vat om iewers spesifiek te kom, is dit gerieflik. Busse neem wel langer om jou by jou bestemming te kry, en soms is dit nodig om busse te ruil. Dit beteken jy moet weet by watter area jy moet afklim. Dis ook nodig om te luister na die bus drywer se aankondigings, sodat jy weet waar om af te klim en watter bus om volgende te neem. Dit kan nogal ‘n komplekse manier word om in die stad rond te beweeg, want die bus drywers praat baie vinnig en dis soms moeilik om uit te vind watter bus nommer jou waarheen vat. Let wel, vir langafstandbusse is dit baie makliker want jy bespreek jou kaartje aanlyn en jy ruil amper nooit busse nie. 

Verder is taxi’s die mees populêre vervoer keuse vir meeste toeriste. Jy kan of een aftrek, of jy kan ‘n toepassing soortgelyk aan Uber aflaai en so ‘n ryding bespreek. Taxi’s is oor die algemeen veilig en maklik om te gebruik, alhoewel dit baie duurder is as die trein. As jy in die verkeer vassit, hou die taxi se meter aan met loop, so stillstaan beteken duur koop. Maar met ‘n toepassing word die fooi vooraf gereel, en dus kan jy die volle kostes vooraf bepaal. Die Thai tuk-tuk is ook ‘n opsie, maar daar was al baie onderonsies tussen drywers en toeriste. Kies mooi wie jou drywer is en bepaal die prys vooraf. Laat geen opsie vir misverstande nie.

Die ander populêre opsie vir gesoute reisigers om in die stad rond te beweeg, is die motorfiets taxi’s. Hulle is goedkoop, rats en nogal pret! Dis maklik om een in die stad te kry en solank jy ‘n helm dra, behoort jy veilig te wees. Perfek vir ritte onder 10 km. Kyk uit vir motorfietsryers wat helder oranje of geel baadjies dra, en steek net jou hand op. Hulle sal by jou stop en dan kan julle die eindbestemming en fooi bespreek.

Vir langafstand vervoer soos na Chiang Mai of na die eilande , is daar ook baie opsies. Ek sal nog ‘n volledige artikel oor die vervoer opsies, veiligheid en ons eie ervarings skryf. Sulke vervoer opsies sluit in mini-bus taxi’s, treine, vliegtuie en bote. Almal is redelik maklik om te bespreek en ook redelik goedkoop. Dis altyd goed om resensies te lees or die vervoermaatskappye want elke diens-afdeling het sy slegte appels. Weet net dat Thailand bekend is vir sy vinnige en volop vervoer opsies.

Boedha kop in ‘n hotel in Thailand.

Baht, Die Thai Geldeenheid

Thailand gebruik Baht as hulle geldeenheid, en al sal meeste hotelle en luukse restaurante dollers aanvaar, het die rand geen plek in jou beursie hier nie. Maar dis heeltemal ok! Jy kan by meeste Kasikorn ATM’s direk van jou Suid Afrikaanse rekening geld trek, en dan kry jy dit in Baht( Kasikorn is die groen bank/ATM). Boonop is die rand sterk teenoor die baht, dus sal jy ‘n luukse vakansie kan reel vir minder geld. Ek sal jou nog wys hoe!

Thailand self kan maklik getoer word met ‘n klein begroting. Straatkoffie wissel tussen R15-R20. ‘n Klein sosatie stokkie is maar R3 en die groter sosaties R5. ‘n Bakkie stomende sop-noedels begin rondom R17. Sou jy soek na ‘n luukse ervaring of ‘n spesialiteits koffie of dis, dan gaan jy heelwat meer betaal – maar dit sal die sente werd wees. Dis net belangrik om te onthou dat die goedkoop, straatkos-ervaring in Thailand net soveel, as nie meer plesier verskaf as hoë kwaliteit restaurante nie. Dis nie aldag dat een van die stalletjies ‘n Michelin ster verwerf nie, maar in Thailand het ‘n straat-kos restaurantjie dit reggekry! Wel gedaan.

Jy kan ook jou kleingeld ingee by ‘n 7/11, en dan note terug kry. Maar dis altyd goed om kleingeld te hê vir motorfiets taxi’s of gewone taxi’s.

Van 7/11 Tot Dior

Wat Thailand so besonders gemaak het, was die toeganklikheid van basiese kosse, versnaperings, badkamer benodighede en, vir die wat van ‘n biertjie hou. Of jy op ‘n eiland is of in die middel van Bangkok se besige metropolis, kan ek jou belowe ‘n 7/11 is net 5 minute se stap weg. En die winkeltjie het alles – selfs NickNacks! Van verpakte vrugte tot vegetariese burgers, jy kan enige tyd van die nag of dag kry wat jy nodig het in die helder, goed ge-oliede winkels. Maar net soos die land volop is van 7/11’s staan dit ook bekend vir luukse, kunstige en tegnologies gevorderde inkopiesentrums. Bekende modename flits in groot glas venters en slanke dames stoot hulle woefies in stootkarretjies deur die verkoelde gange van mooie inkopiesentrums. Al is jy nie self lief vir inkopies doen nie, ‘n besoek aan een of twee van die sentrums is die moeite werd, bloot omdat die ontwerp en kombinasie van tegnologie en natuur besonders goed geïntegreer word. Van luukse parke op die 7de vloer, tot tuine wat bo jou kop hang – dis ‘n ongelooflike belwenis, en die perfekte ontsnapping van die hitte.

Markte En Straatkosse

Wanneer jy ‘n toer na Thailand beplan, kan jy die markte nie misloop nie. Van geurige blommemarkte met verskei blomme toegedraai in Thai koerantpapier, tot markte vol kosse en klere. Die markte kan baie rou wees en soms eienaardig ruik, maar dis ‘n belewenis om dit te besoek want jy leer van die tradisionele manier van lewe. Hier sien jy glimlaggende tannies, met verrimpelde velle wat kos kook – die resepte eeue oud. Jy sal ook kinders in die strate sien speel, of uitgestrek op ‘n stoel lê en op ‘n selfoon speel, terwyl mamma, ouma en oupa met die buurstalletjie se mense praat, of besig is om vis, vreemde groente, of hoender af te meet vir ‘n klient. As jy eerder ‘n luukser mark wil besoek, is bekende markte soos Chutuchak (ook bekend as JJ’s) ook volop. Met Covid het baie bekende markte toegemaak, maar soos die pandemie verbeter het, het nuwe, meer moderne markte oopgemaak. Die markte beloof goedkoop kosse, klere en dienste soos nael-gel met blink kuns of selfs tattoëring. Al is die markte goedkoper as die groot winkels, is dit baie mooi versier, met sagte lap tente, liggies en groot tafels waarby jy en vriende heerlik kan sit en smul aan al die happies wat julle bymekaar gemaak het soos julle geloop het. Dis so lekker dat ons dit op ‘n stadium elke naweek gedoen het – en soms selfs deur die week.

Een van my gunsteling ervarings by die markte is die geleentheid om die Thai kultuur te beleef. Spesifiek by die nuwer markte sien mens hoe die jonges met hulle honde-kinders rondstap, jong vriendinne saam “selfies” neem of nuwe paartjies skaam, skaam saam roomys eet. Dis ook lekker om einaardige disse hier te probeer, want jy kan een van alles koop en as jy nie van iets hou nie, dit oorlos onder om te veel geld of kos te mors. Ek kon by so ‘n mark ‘n “durian mochi” kry, sonder om te duur te betaal. Dit het my laat snak na my asem, omdat die geur so sterk was. Durian is die Thai nasionale vrug, en dit stink so dat die vervoer daarvan op treine verbied word. Maar tog is soveel Thai ( Sjinese en westerlinge) dol oor die vrug, en dus sal jy dit orals in Thailand sien en ruik. Markte is net die regte plek om sulke kosse te ervaar.

Weer En Seisoene

Thailand is tropies, so die klimaat is heerlik enige tyd van die jaar. My persoonlike gunsteling tyd is die koeler maande van November, Desember en Januarie, want die temperatuur in Bangkok is gelyk aan ons lente temperatuur ( so tussen 15 en 25 grade Celsius). Die “winter” sien ook helder blou lug en minder reën want Thailand kry “somerreën”.

Jy sal dus nog in die hittige somer deur die strate stap en skielik voel hoe die hemele hulle vloedkraan oopmaak om jou vir 10 min te oorrompel met groot, warm druppels en betowerende donderweer. Dis vir my groot pret want jy weet nooit wat die dag inhou nie, en die reën gee die stad ‘n mysterieuse atmosfeer – dit voel skoon romanties. So hou altyd ‘n sambreel byderhand in die somer, en ek sal voorstel dat jy ‘n paar reënstewels saamvat sodat jou voete teen die water beskerm kan wees. Ek gaan juis ‘n paar Silver Lining reënstewels aankoop vir my volgende besoek aan die ooste.

Thailand het eintlik net 3 seisoene, en dit word die nat seisoen (Mei tot Oktober), die koel seisoen (November tot Februarie) en die warm seisoen (ek noem dit die wegsmelt seisoen – van Maart tot Mei) . Maar om eerlik te wees is Thailand altyd warm en jy sal meestal koeligheid bo in die noorde ervaar of in ‘n groot winkel sentrum. Maar selfs vir ‘n winter baba soos myself, leer mens om aan te pas deur koue storte te vat en heerlike water van die kokosneut te drink. Dis ook hoekom eiland vakansies so gesog is – die seewater maak die hitte soveel better.

Water in Kanchanaburi, Thailand, gedurend die reen seisoen

Thailand As ‘N Reis Bestemming

Jy gaan meer oor Thailand as ‘n reisbestemming leer onder “Toer”, maar in kort is dit ‘n veilige, luukse en wonderlike land om heen te reis vir ‘n kort of lang besoek. Dis redelik veilig, spesifiek wanneer dit opgeweeg word met ons eie land, en volgens statistieke daal die misdaad elke jaar. Die land het ongelukkig meer bekend geword as ‘n plek waar buitelanders maklik met dwelms kan handel, maar as jy daarmee gevang word gaan jy slimmer en summier tronk toe, en die kans om uit te kom is skraal. So kies mooi waar jy uithang en met wie.

Die land het ook baie natuurwonders, soos water so blou dit lyk tegnologies aangepas, of berge so groen en hoog dit voel asof ‘n oosterse draak enige oomblik oor die pieke gaan verskyn. Die hoeveelheid besonderse en asemrowende natuurlike bestemmings sal maak dat jy meer as 5 keer die land sou wil besoek.

Die hotelle en reservate is ook van top gehalte, omdat die bekendstes en rykstes hierdie land gereeld besoek. Vir die rede verskyn die land gereeld in reistydskrifte soos Conde Nast, want uniek, besonders en veilig is alles wat jy kan verwag van ‘n goedbeplande besoek. So hou gerus ‘n ogie oop vir ons Toer bladsy wat binnekort gevul gaan word met baie beproefde toerwenke en nuus.

Ons skop juis die jaar af met ‘n ‘n volledige artikel wat jou help om Thailand as ‘n toer opsie vir 2023 te beplan, met die beste gebeurtenisse, feeste en natuurverskynsels, maand vir maand. Lees gerus hier sodat jy weet wanneer dit die beste vir jou sal wees om die land te besoek!