Hoe om die beste tyd vir jou 2023 toer te kies.

Okey, so om in Thailand te toer is op jou lysie vir 2023, maar nou weet jy nie wanneer die beste tyd is om die land te besoek nie. Elke reisiger het unieke reisbegeertes en daar is dan nie een spesifieke tyd wat die beste vir almal is nie.

Jou Thailand 2023 toer keuse sluit dalk in lang dae op wit strande en aande omring deur gloeiende plankton. Maar jou vriendin se 2023 toer keuse is om haar siel te gaan verloor in die berge en wakker te word op ’n bergkraans bo ’n kombers van wolke. So watter tyd van die jaar sal beter wees vir julle individuele reis behoeftes? 

Om jou uit die dilemma te help het ek ’n opsomming gemaak van Thailand 2023 toeropsies oor een jaar. Ek leer jou oor die weer, die feeste en watter ding die beste is in watter maand. Ek deel ook besonderse ervarings of verskynsels wat net sekere tye beskikbaar is, sodat jy maklik kan besluit wanneer jy in 2023 die Ooste moet besoek. Lees gerus verder

Januarie Toer//Winter Beteken Son 

Thailand het ’n winter, as jy dit as Suid Afrikaner so wil noem. Dis ’n seisoen van die lekkerste weer moontlik, met dae wat voel soos ’n warm, tropiese lente en nagte wat lig en koel voel. Januarie is die middel van die winter seisoen, en al loop die Thai mense met dik winterjasse, sal jy heerlik in die see baljaar en en jou somerrokkies dra. Winter reën is ook nie algemeen nie, en tensy jy in die Golf Van Thailand wil vakansie hou, kan jy blou lug en son verwag. 

Omdat die weer so puik is in Januarie is dit ’n lieflike tyd vir see, stad of bergvakansies in Thailand. Maar in my opinie is dit die heel beste tyd om die Noorde of Noord-Ooste se bergterrein te verken, as gevolg van die koel weer en die besonderse Thai Sakura. 

Thailand Toer Hoogtepunte in Januarie

Thailand se geheime kersiebloeisels

Gedurende Januarie verlaat die Thai mense die stede stuk vir stuk om die strande te geniet. Maar sekere groepe wat op soek is na die besonderse en mooi van die wêreld, reis na Chiang Mai om die vlugtige pienk van die Thai kersiebloeisels te geniet. Gedurende hierdie tyd is Instagram propvol met die mooiste fotos van pienk landskappe teen donkergroen berge. Kersiebome verskyn soos sagte pienk wolke naby Doi Ang Khang en Doi Inthanon wat albei berge in die Noorde is. 

Die hoofdstad van die Noorde is Chiang Mai en Doi Ang Khang  lê 2 ure se ry Noord van die stad. Doi Inthanon is net onder 2 ure se ry van Chiang Mai stad, na die Weste. Omdat die Noorde vol berge en oerwoude is, belowe ’n rit na die twee berge net mooi landskappe en heerlike weer vir wandel en kamp, as jy so voel. Die noorde het baie mooi bergoorde met uitsigte wat die Olimpus jaloers kan maak.

Dan is daar ook die besonderse berg-van-kersiebome. In Januarie word die groen van die berg verruil vir die sagte pienk van die kersie-bloeisels. Dis so besonders dat Thai mense daarna verwys as die “pienk vallei”. Die berg kan gevind word in Phu Hin Ron Kla Nasionale Park, en is so twee ure se ry van af die dorpie Phetchabun. 

Om op die berg te oornag word nie toegelaat nie, maar daar is verblyf en ’n kampterrein naby die voet van die berg.

Watervalle en Rooi Esdoringbome

Januarie is ook een van die best tye van die jaar vir berg wandeltoere en kamp. Omdat die lug nie so drukkend en stik warm is soos  in die Thai somer nie, is Januarie die perfekte tyd om die kilometers van bewoude bergvoue in die Noorde en Noord-Ooste te verken. Nog ’n rede vir wandel in Januarie is die diep groen van die woude na die onlangse reënseisoen. 

 Phu KraDueng is ’n moet doen bergarea vir kranige wandelaars en kampeerders. Meer bekend onder Thai reisigers, is die area in die Noordelike Loei Provinsie, maar nog redelik onbekend vir oorsese toeriste en lieflik onversteurd. Die park belowe nie net 350 kilometers gevul met woude, bergkranse en watervalle nie, maar ook ’n kans om die diep rooi Esdoringbome af te neem.

 Die donkerrooi bome laat die area om Tham Yai en Pen Pop watervalle soos vlam-bome lyk en Thai fotograwe reis alhoemeer hierheen om die bome met hulle kameras vas te vang.  So gepraat van fotos neem, het jy geweet Thailand het van die mooiste blommevelde ter wêreld?

Sweef bo die blommevelde van Chiang Mai

Geduurende Januarie is die Blommevelde van Chiang Mai in volle glorie. Mooi meisies stap met hulle kêrels/fotograwe en neem fotos wat hulle instagram bladsye met duisende nuwe volgelinge vul. 

Die blomplase het so ’n aantrekkingskrag vir Thai sosiale media beïnvloeders geword, dat fotorekwisiete soos groot sonhoede by die ingang beskikbaar is. Verder word tafels in die velde gedek sodat fotos van bo af ook geneem kan word. 

Dis nie net ’n belewenis agv die asemrowende blomme nie, maar ook ’n kans om die jong Thai generasie en mode beïnvloeders in aksie te sien.

Laastens, dis ook ’n wonderlike tyd om ’n lugballon rit oor die velde te neem. Vir meer inligting of besprekings kontak vir “I love Flower(s) Farm” op Facebook, of vir die minste moeite bespreek deur Bespoke Infinite. Hier is ’n artikel wat ek vir hulle geskryf het met al die inligting wat jy nodig het vir ’n lugballon rit met Blomme en Sjampanje. Eksie Perfeksie. 

Wat is nog goed in Januarie?

Thailand is naby aan perfeksie in Januarie, en dus is eilandvakansies, stadsvakansies en bergvakansies almal heerlik. Dis ’n lieflike tyd vir die eilande wat in die Andaman See lê, soos Phuket, Koh Phi Phi of Koh Yao Yai/Koh Yao Noi want die weer is warm en droog en die see is rustig en nie troebel nie.

Dis ook heerlik om in die stede rond te dwaal omdat die weer koeler is as in die middel van die jaar, en ook omdat die baie luukse winkel- sentrums, parke en publieke spasies vol Nuwejaar versierings is. 

Tussen Desember en Februarie vind 3 groot feesvierings plaas, naamlik Kersfees, Nuwejaar en die Sjinese Nuwejaar. Thailand vier al 3 met hart en siel en professionele kunstenaars en ontwerpers word ingespan om Bangkok te versier. Ek voel soms die gees van opwinding meer in Bangkok as in Suid Afrika omdat die vieringe so ernstig opgeneem word in die land.

Die “Beach Bars” in Thailand is so mooi. Koh Samet 2022

Nasionale Feeste in Januarie

Iewers tussen die 15de en die 25ste Januarie word die Pak Nam Pho Sjinese Fees gevier in Nakhon Sawan, as gevolg van die hoeveelheid Sjinese mense wat in die area bly. 

Dis ’n kleurvolle en vrolike viering en op die laaste dag word ’n groot optog deur die straat na die rivier gehou. Die optog word gelei deur ’n groot goue draak en baie gedans en gesing. 

So Januarie is defnitief een van die twee maande waarin kamp en bergavonture in Thailand wonderlike sal wees.

Februarie Toer// Die Mees Romantiese Vakansie

In Februarie word liefde ernstig in Thailand gevier. Die maand sien ook die einde van winter en die begin van lente, so blomme en liefde loop so hand aan hand in Thailand. 

Dis steeds ’n maand van lieflike weer, en soos meeste maande in die land, is eiland vakansies altyd ’n wenner. Boonop is Februarie ’n wonderlike tyd om die Suidelike Provinsie van Trang te besoek vir ’n baie unieke trou opsie! 

Maar ek weet dat Thailand soveel meer het om te bied as net eiland- vakansies, so ons gaan fokus op Chiang Mai en Bangkok omdat die weer fantasties is vir stadsavonture en die twee stede pronk met fantastiese visuele en kunstige vierings agv Valentynsdag! Oh la la! Kom ons val weg met Chiang Mai.

Thailand Toer Hoogtepunte in Februarie

Chiang Mai se Nasionale Blommefees

Tussen Februarie 3-5 word Chiang-Mai stad een van die kleurvolste stede ter wêreld. Reusagtige blom vlotte in die ewebeeld van olifante, drake en tuk-tuks word deur die strate geparadeer en vind dan hulle rusplek in die Bak Hat Park vir 3 dae vol geur en kleur.

Soos met alle Thai feeste en uitstalings, word baie werk in elke deel van die fees ingesit, en belowe die 3 dae nie net blommerangskikings wat jou mond sal laat oophang nie, maar ook ligvertonings, gewoonlik oor die groot riviere van die ou stad, musiek en jolige tradisionele vertonings en danse. 

Die laatste winter koelte belowe ook lieflike naget langs die pragtige Ping rivier op soek na lekkernye soos “mango and sticky rice” poeding, of gedraaide vark-sosaties. 

Huur ’n fiets en trap deur die ou strate of besoek die Vespa Hotel, Casa Vespa, en wroem die drie dae verby in styl.  

Chiang Mai is Maar 2 ure weg van Bangkok per vliegtuig en kaartjies is baie bekostigbaar, met pryse tussen R300-R800 per persoon. 

Verlief en Verlore in Bangkok

Ek het my hart verloor op Bangkok. Al my  vriende weet dit. As jy my in die straat ontmoet en my vra oor die massiewe stad, gaan jy dit ook weet teen die einde van ons gesprek. Maar in Februarie, het Bangkok ALMAL se harte want Valentynsdag, liefde en “self-liefde” word oral deur die stad gevier. Van stylvolle 2 verdiepings groot balonne wat in die middel van stylvolle winkel-sentrums hang, tot parke en publieke sit-areas word gevul met stylvolle en unieke kuns en installerings wat Cupid se Tema weerspieël. Boonop word meeste sulke kunstige uitstallings deur groot name in die Thai kunsbedryf gemaak, en dus word Bangkok ’n groot gallery van liefde.

Vir my is dit altyd lekker om die boetiek koffies- en teewinkels dop te hou vir die drankies en lekkernye wat net een maal ’n jaar hulle mooi gesigte wys. Van pienk cappuccino’s tot kaaskoeke toegepak onder goudgeel blomme en pienk aarbeie – die visuele en smul opsies is oneindig en altyd opwindend. 

Laastens stel ons voor jy besoek die ongelooflike Thai Blommemark en die Floral Cafe wat in die hartjie van die mark lê.  Pak khlong Talat staan bekend as een van die top 10 beste blomme markte ter wêreld en beloof ’n oggend van kleur en geur soos geen ander. Ek sê “oggend” want in my opinie is dit die beste tyd om die mark te besoek, sodat jy kan sien hoe die blomme afgelwer word en die rou, maar mooi kant van die Thai mark kan sien. 

Wat ookal jy kies om te doen in Bangkok, Februarie is een van die beste maande om verlief te raak op die stad. Bespreek ’n romantiese hotel in die ou deel van die stad ( Genoem Rattanakosin) of ’n moderene suite in Ari, reg langs die BTS, en dan verken jy die parke, eetplekke en kunsareas van die eklektiese stad.

Trang: Haak die Knoop Deur Onder die Blou Van Trang se Water

Dalk voel jy Thailand is meer as net jou valentynsvakansie. Dalk voel jy braaf en besluit jy dis die land waar jy en jou maat die knoop wil deurhaak – onder die blou see.

Tussen die 3-5de Februarie kan jy en jou gliefde julle liefde aan mekaar belowe onder die ongelooflike water van die Trang Eilande.

Jy en jou maat kan saam met ander paartjies ’n tradisionele Thai seremonie in die tropiese water geniet. As jy klaar getroud is, kan jy steeds deelneem as ’n besonderse manier om julle liefde weer te bevestig, of dalk wil jy net die grootste onderwater troue ter wêreld sien. 

Die 3 dag liefdesviering gee jou en jou geliefde die kans om beeldskone, tradisionele Thai klere aan te trek en aan ’n Thai trou- parade deel te neem in die dorp Trang. Julle sal op die tweede dag na die eiland, Ko Mook of Ko Kradan vervoer word en dan deur verskeie Thai seremonies gaan voor julle onder die blou see julle liefde aan mekaar sal belowe. 

Na die seremonie onder die see, volg ’n heerlike ontvangs op die strande en die derde dag word deurgebring by tradisionele Thai tempels om eer te gee aan Boedha, as ’n wens vir goeie geluk vir jou en jou geliefde.

Westers en traditoneel is dit glad nie, maar eerder ’n besonderse manier om liefde te vier saam met mense van orals oor die wêreld in ’n tropiese paradys. Trang is beeldskoon en die wit strande is die perfekte begin van julle nuwe lewe saam. 

Wat is nog goed in Februarie?

Strande. Eilande. Stede. Februarie is wonderlik vir alles. Min reën, koeler weer as in Maart (dankie tog) en as die laaste van die hoë seisoen, die kans om interessante mense van oral af te ontmoet – dalk nog onder die waters van Ko Mook.

Soos genoem, Valentynsdag op die 14de, en dan is daar ook Burp motorfiets fees in Pattaya (die datum is nog nie bevestig nie) en die Phuket Blues en Rock fees in Phuket, die 24 en 25ste Februarie. 

Nasionale Feeste in Februarie

Maart Toer//Swem saam met Walvishaaie

Maart is die rede vir my liefde met winkelsentrums in Thailand. Want winkelsentrums beteken lugverkoeling. Maart is die begin van die warm seisoen, maar laat ek duidelik wees – Thailand is altyd warm. Dis nooit koeler as a hittige lente dag in Suid-Afrika nie, tensy jy dalk tussen Desember en Januarie hoog in die berge gaan wandel.

Dus is ’n Thailand vakansie in Maart beste vir eilandtoere. En ek wil Koh Tao bo-aan daardie lysie van eilande plaas. 

Thailand Toer Hoogtepunte in Maart

Ervaar Ware Eilandlewe op Koh Tao

Koh Tao is die kleinste van die bekende groep eilande in die Golf Van Siam. Die ander twee is Koh Samui en Koh Pha Ngan. Die grootte van die eiland moet jou nie afsit nie – in teendeel, dit maak die eiland makliker om te verken, minder toerisagtig en maklik om onderhou te word. 

Bekend as die duikeiland van Thailand, het die eiland die grootste verskeidenheid duikskole en toere, sowel as van die mooiste en veiligste duikwaters in Thailand. Ek het self my duiklisensies by Koh Tao gekry en sal dit vir enige een aanbeveel.

Maart is die perfekte tyd om jou eerste duik hier te doen want dis die begin van die Walvis Haai Seisoen. Vanaf Maart tot Mei besoek die reuse, vriendelike haaie die waters tussen Chumphon en Koh Tao en gee ons die kans om hulle in die skoon, deurskynende waters van die tropiese land te sien. 

Boonop neem meeste van Koh Tao se besighede en duikskole natuur en diere welsein ernstig op, en sal meeste sulke duike laat plaasvind onder streng toesig van ’n gekwalifiseerde duikinstrukteur, en sonder dat die diere of omgewing versteur word. 

Asseblief wees altyd bewus van die gevolge van jou teenwoordigheid in die see en moet nie aan visse, skulpe of koraal raak nie. 

See, Strand en Seetoere

Die ander eilande is ook lieflik in Maart en boonop meer bekostigbaar as in die hoë seisoen tussen Desember en Februarie. So dis baie makliker om vlugte, verblyf en toere teen ’n afslag te kry as jy ‘n Thailand toer in Maart wil reël.

Vir die bekendste eilande en seetoere is Krabi ’n goeie begin. Van die eiland af kan jy toere na Koh Phi Phi, Koh Poda, Chicken Island, en menigte ander eilande bespreek.

As jy ’n hotel naby die kus wil bespreek, kies dan die ongelooflike eiland Railey, leterlik om die draai van Karabi. Die eiland is net toeganklik met boot, maar dis minder as tien minute van Krabi se strand af. Die twee word letterlik geskei deur ’n bergkrans. 

Railay is ongelookflik mooi, met twee oop strande en lieflike seewater vir swem of roei. Dis ook bekend as die beste eiland vir bergklim agv die Kranse wat regop uit die see reis. Goed vir beginner-bergklimmers of vir die ervare adrenalien-junkie.

Dalk is berg klim nie jou koppie tee nie. Jy kan dan op die strande lê, van eiland tot eiland hop met verskeie boottoere of die geheime seegrotte verken. 

Van private seiljagtoere tot kamp op klein eilande in die middel van die see – Maart is ’n wonderlike tyd vir ’n tropiese eiland vakansie.

Wat is nog goed in Maart?

Ek stel altyd voor om watervakansies in die hittige maand te bespreek, so ’n ander opsie is die verskeie luukse rivier-oorde in Thailand. Die oorde, duur en bekostigbaar, word gevind in Kanchanaburi of in Nasionale Parke soos Khao Sok.

Albei plekke bied huisies wat dryf op die water, wandeltoere in berge met watervalle en baie wateraktiwiteite. 

Kanchanaburi is meer bekostigbaar en die dorpie self het baie oulike straat kroë en is bekend vir sy historiese brug, Bridge Over the River Kwaai en ander historiese plekke. Die geskiedenis is nie altyd ’n maklike een om te sluk nie, maar wel interessant. Dan is daar ook die juweel en edelsteenmark waar jy besonderse stene teen ’n baie goeie prys kan aanskaf.

Nasionale Feeste in Maart

Feeste in Maart sluit in Nasionale Olifantdag, Nasionale Muay Thai Dag en die pragtige Vlieër Fees by Cha-Am, so 3 ure Buite Bangkok.

April Toer// Die Beste Kinder VakansieTyd

April is verseker die warmste maand van die jaar in Thailand. Die hitte voel asof Bangkok die res van die wêreld van die son verskuil. Maar ten spyte van die hitte is dit, in my opinie, die lekkerste tyd vir gesinne met jong kinders om vakansie te hou omdat die Thai Nuwejaar in die maand val. Solank jy seker is jou kinders kan die hitte hanteer – drink baie water en versigtig vir sonsteek.

Thailand Toer Hoogtepunte in Maart

Songkran, Die Grootste Waterfees Ter Wêreld

Thailand gaan hulle Nuwejaar binne met die grootste Waterfees in die wêreld – Songkran. Die viering vind gewoonlik plaas oor 3 dae, gewoonlik van die 13de tot die 15de April.

Dis 3 dae van baljaar in die strate van Bangkok, Phuket, Chiang Mai of eintlik enige dorp of eiland in Thailand. Oral waar jy gaan maak mense reg vir die Fees, en by elke 7/11 of stalletjie sien jy berge plastiek-selfoon sakkies, moonbags en handsakke te koop – alles om jou foon, kamera en beurse te beskerm teen die aanslag van water wat oor die drie dae plaasvind. 

Van die oggend vroeg af word elke oupa, kind of tuk-tuk drywer jou watervyand, en as jy nie versigtig is nie word jy sopnat geskiet met  helder pienk, groen of geel watergewere. Omgegooi met groot emmers ys-water, of afgespuit met ’n tuinslang. Hier gaan jou duur selfoon, Gucci sak of Nike skoene geen beskerming wees nie, en as jy skade lei is dit net jou eie skuld.

In Bangkok word Silom afgebaken en ’n  skare mense loop onder die koel skadu van die BTS en spuit mekaar nat. Musiek speel, kinders van alle nasionaliteite word watermaatjies en mense sit met sopnat klere in die straat kroeë en lag vir die spektakel wat Bangkok is. Pure genot!

Tier of Sand Beeldhouwerk?

 En as jy voel jou kinders is net klaar met speel en baljaar, dink weer, want soos Songran tot ’n einde kom, begin die vlugtige Wan Lai Fees  op die Chonburi strand genoem Baeng Saen.

Kom ons noem dit die “Fees Van Sand Beeldhouwerk”. Mense van oral oor Thailand bou oor ’n periode van 24-36 uur die ongelooflikste beelde uit sand. Die oorsprong, soos meeste tradisies in die land, is vanaf die Boeddhistiese kant. Die Monikke sou na Nuwejaar sand na die Tempels bring en dan Chedi’s uit die sand maak. Dis ’n manier van eer gee omdat soveel sand deur aanbidders deur die jaar uit die tempel uitgetrap word. En so, mettertyd, het die tradsie gelei na die standbeelde op die strand.

die Befaamde Onderwater Tempel wys ay Gesig

’n Baie besonderse gebeurtenis vind net in Maart plaas. Omdat dit bekend is as van droogste maande van die jaar, is die watervlakke die laagste gedurende Maart. Laag genoeg om Wat Tai Nam sigaarbaar te maak.

Die ongelooflike tempel word vir 9-11 maande van die jaar bedek met meerwater. Maar in Maart sak die water vlak genoeg vir die tempel om nie net sigaar te wees nie, maar ook om tot by sy ornamentele deur te stap. 

Die boustruktuur is besonders en eers kom dit baie eenvoudig voor, maar die watergevlekte mure, pragtige ingange en semetriese struktuur maak dit betowerend vir  fotograwe, Thai mense en ook enige iemand wat belangstel in die besonderse “unseen Thailand”.

Die tempel is te sien in Sangkhlaburi, Kanjanaburi. Dis so ‘’n 5 ure rit vanaf Bangkok en vervoer kan maklik gereël word. 

Wat is nog goed in April?

Eilandlewe natuurlik! In April is die hoë seisoen verby en nou is die kans om spoghotelle en oorde teen goeie pryse te kry.  En hoekom nie van die minder bekende eilande besoek nie?

Dit verbaas my hoe min mense weet van eilande soos Koh Lipe, Koh Yao Yai, Koh Yao Noi. Al 3 eilande lê so tussen 3-4 ure se bootrit vanaf Phuket of Krabi, en is maklik bereikbaar deur boot.

Koh Lipe se water sal jou laat dink jy is in Mauritius, en Koh Yao Yai is ongerep en smaraggroen, met lang-horing beeste wat in varings wei, en klein groepies muslim husies wat deur die eiland versprei lê. Die eiland het ook van die mooiste oorde in Thailand, en Santhiya Tree Resort bly hoog op my lysie van luukse oorde wat baie bekostigbaar is. Koh Yao Noi is die sustereiland van Koh Yao Yai, en ’n bootjie vat jou oor na die meer ontwikkelde klein sussie binne 5 minute.

As jy ’n eiland soek waar jy hope oop, melkwit of goue strande kan kry, maar ook kan partytjie hou en ’n paar interessante konkoksies probeer, dan is Koh Lanta die een vir jou.

 Vêr van my gunsteling af, maar ek moet sê die strande is ongelooflik hier – wees net versigtig vir die apies wat jou goed steel. Jy is vinnig, maar hulle is vinniger. Die Eiland het ook een van die mooiste paaie in Thailand, en dis definitief die moeite werd om ’n poegie of motorfiets te huur net om daarop te ry. Dis die pad na Koh Lanta Nasionale Park. 

Laastens het die eiland ook ’n Nasionale Mariene Park met die naam Mu Ko Lanta, en duik en snorkel word hoog aanbeveel in die park.

Nasionale Feeste in April

Die 6de April vier Thailand Chakri dag, so dis ’n Nasionale Vakansiedag.

Songran, of Thai Nuwejaar, begin die 13de April en eindig op die 15de April. Let wel dat Maandag die 17de April ’n publieke vakansiedag is. 

Omdat dit Thai Nuwejaar is gaan baie Thai mense vanaf Bangkok terug na hulle ouerhuise. Dus is die paaie en lugrederye baie besig. Dis ook skoolvakansie so wel-af gesinne vlug na eilande soos Krabi of Phuket, of na kusdorpies soos Hue Hin. Dus sou ek voorstel dat jy vroegtydig jou verblyf en vervoer bespreek vir April.

Mei Toer// Dit Reën nie – dit Stort Neer!

Ek is baie lief vir die reënseisoen in Thailand. Die dae is onvoorspelbaar met reën en donderweer wat in die oggende, aande en laat middae op die land neerslaan, maar met hittige temperature en sonnige middae. Dit voel asof die god Indra ons probeer verras en dan beheer verloor in die proses. Dis heelwat pret as jy nie omgee vir nat word nie.

Thailand Toer Hoogtepunte in Mei

’n Eilande Vakansie is steeds tops

Mei is die begin van die 3-4 maande lange reënseisoen, en soos die druppels neerdaal, so daal die pryse van luukse oorde en hotelle.

Maar dit beteken nie alle eilandvakansies is uit nie. Meeste eilande kry redelik reën – maar net vir kort rukkies op ’n slag. Jy sal 3-4 ure se sonnige weer kry vir boek lees op die strand. En wanneer die reën kom, vat jy jou vakansie boude na die naaste eiland restaurant en geniet ’n gin-en- tonic, of in my geval, ’n Thai Tee tot die reënbui verby is.

Ek sou die eilande in die Golf Van Thailand voorstel – dis nou Koh Samui vir die luukse vakansie, Koh Pha Ngan vir diegene wat lus is vir volmaan partytjies, of Koh Tao vir die wat wil duik. Want al is die water dalk ’n bietjie onstuimig, is dit rustig onder die water en dis die laaste van die Walvis Haai seisoen. Al 3 eilande het spoggerige oorde wat die tyd van die jaar lieflike afslag gee. 

Speel Golf in die Kusdorp, Hua Hin

Die kus dorp van Huan Hin is ook ’n wonderlike opsie die tyd van die jaar. Boonop sien die dorpie minder reën as sommige van die ander kusdorpe, en is baie populêr tussen die Thai bekendes. Die dorp het luukse oorde, mooi strande en van die beste gholfbane ter wêreld. Boonop is dit ’n vinnige 2-3 ure rit van Bangkok en dis maklik om self tot daar te ry. 

Wat is nog goed in Mei?

Omdat die reën seisoen net begin het, is daar nog baie dae sonder reën buie, en dus is meeste eiland besoeke steeds ’n wenner. 

Ek het selfs in laat Junie al Koh Samet baie geniet, en het lieflike weer gehad. Die eiland is ook groot pret omdat dit wonderlike “beach-bars” het waar jy heerlik op ’n lê stoel ontspan terwyl jou drankies aangedra woord. 

Nasionale Feeste in Mei

In Mei vier Thailand Chantabun Vrugtedag. Hulle vier die begin van Durian seisoen. Durian is ook bekend as die “Koning Se Vrug” omdat die oorlede koning so erg was daaroor. Die massiewe vrug wat lyk soos ’n groot gewas, het ’n sterk reuk en smaak wat mense mal maak. Mal met plesier of mal met walging. Die reuk is so skerp dat dit verban is in treine, busse, vliegtuie en hotelle – ten spyte van die feit dat dit hulle geliefkoosde koning se gunsteling was.

In  Isaan ( die Suidelike deel van Thailand) kan jy die Vuurpyl Fees bywoon. Dis ’n klein Fees  wat gehou word in Mahasarakham. Thai mense maak en skiet selfgemaakte vuurpyle en daar word gesing,  gedans en natuurlik, geëet.

Nog ’n fees wat in Bangkok self gehou word, is genoem “The Royal Ploughing” dag. Hierdie Fees word soms bygewoon deur die Thai Koninklike gesin omdat dit belangrike voorspellings vir die volgende jaar se landbou  sektor inhou. Onder andere word verskeie mandjies vol kos aan twee uitgesoekte Thai beeste gebied, dit wat hulle eet voorspel belangrike gebeurtenisse in die volgende jaar.

Op Koh Samui is daar ook ’n groot Jazz fees vannaf die 2de tot die 7de Mei.

Junie Toer// Raak ’n Stadsjapie in Bangkok

In Junie word die reën meer en donderstorms tref die land twee tot 3 maal per dag. Maar dis steeds vinnig verby! Ek sou soms in ’n klas instap wanneer die reën begin, en teen die tyd dat ek uitstap skyn die son heerlik in die blou lug. Al bewys van die reënbui is die diep water wat in die strate lê vir so 30 min. Dus word reënstewels aanbeveel (al lees ek dit nie raak in enige ander webjoernaal oor die land nie) en vir die volgende reënseisoen gaan ek ’n paar Silverlining Rain boots aankoop. Glo my, jy wil nie ’n swam hier optel omdat jy in plakkies deur die water geloop het nie. 

Thailand Toer Hoogtepunte in Junie

Bangkok, ’n stad propvol met verrassings en geheime

Bangkok is altyd ’n wonderlike opsie vir toer omdat vervoer maklik is – al is dit reënseisoen. Die stad loop Suid Afrika vêr verby as dit kom by inkopiesentrums en tegnologiese vermaak. Boonop is die pryse baie goed en dus is die stad hoog op die lysie vir inkopies wat beide luuks en goedkoop is. So as jy lus is vir ’n vakansie saam met jou vriendinne, ma of sussies, kan julle dae lank inkopies doen in luukse sentrums en huis toe gaan met ’n hele nuwe klerekas. 

Ek stel dus voor dat jy in Junie ’n stads-vakansie geniet.’n Luukse Thailand toer. Bespreek ’n hotel in die luukse Thonglor of Silom en begin elke oggend met ontbyt in die hotel, of by een van my gunsteling “brunch” hoekies.

In Bangkok is die natuur so naby jy vergeet soms jy is in ’n groot stad. Huur ’n Tuk-tuk vir die dag en ry tussen tempels rond. Verruil jou strand plakkies vir loopskoene en kies een van die baie stads areas om deur te wandel. Dis veilig en die mense is baie vriendelik. 

As jy lus is vir aktief wees, gaan besoek ’n Muay Thai gymnasium of loer in by die hoë klas gimnasiums wat deur die stad versprei is. Van Akro-Yoga tot skyf-skiet – hier is nie net iets van alles nie, maar ook die beste van alles. Dus is Junie wonderlike vir ‘n aktiewe Thailand toer.

Dalk is jy eerder lus Vir’n Thailand kos toer? Jy wil die menigte kookkuns opsies beleef – van straatkos-toere, plaas-tot-tafel ervaring of rou en vegan kos-toere – die stad het alles en nog meer.

Toer Na Thailand vir Mode Week

As jy al in Thailand se hoofstad was, sou jy brews geraak het van die steilvolle dames en mans wat Dior, Channel en Jimmi Choo dra- op die BTS, in die koffie winkels in Ekkamai, of by ‘n VIP dans klubs.

Thailand is baie bekend in die mode wêreld, en stadsjapies vat dir baie ernstig op. Dus is dit nie snaaks dat Bangkok Mode Week ‘n moet doen op jou Junie-toer lys moet wees nie.

Bangkok Mode Week vind plaas in die laatste week van Junie, en dus sal jou stads vakansie mooi afgerond wees as jy hierdie gebeurtenis bywoon.

Wat is nog goed in Junie?

Soos ek genoem het – die reën is nie heeldag ’n probleem nie (reën is nooit vir my ’n probleem nie), en dus is eilande steeds ’n goeie opsie vir ’n rustige vakansie.

Phuket is ook ’n goeie idee omdat dit soveel interessante strande en dorpies het. Gaan verken die brug van liefde, of bespreek die mooiste hotel in Phangna Bay. Rits rond op jou motorfiets of besoek een van die baie masseer salonne.

Ek dink persoonlik dat Phuket se ou stad baie soos Kaapstad lyk omdat daar sulke mooi geboue is wat baie lyk soos die koloniale styl wat mens in Adderly straat sien. Elke winkel, ontbyt of middagete restaurant is besonders en ek voel altyd geskeur tussen die baie mooi en lekker opsies.

Nasionale Feeste in Junie

In Dan Sai, Loei Provinsie hou Thailand die Phi Ta Khan Ghost Fees. As jy die Fees wil bewoon sal jy besonderse en gedetailleerde maskers sien in alle grotes en kleure. Soos alle Thai Feeste is dit pret met baie musiek en dans.

Op die Boedistiese kalender is Vesakha Bucha dag die belangrikste in die jaar, want dit vier Buddha se geboorte, sy verligting asook sy reis na Nirvana. Die dag word gevier wanneer dit volmaan is in Junie, en dus sal dit op die 3de of 5de Junie val in 2023.

Papier lanterns hang in ‘n tempel. Elkeen het wense vir die nuwe jaar opgeskryf.

Julie Toer// Die Beste Duiktyd in Die Golf Van Thailand

Die reënseisoen is nou in volle vaart, en op eilande in die Golf van Thailand is dit warm en winderig. So hoekom sal ’n vakansie hier goed wees? 

Die Golf Van Thailand kry ook reën in die tyd- maar baie minder as die res van die land. In my ervaring en volgens duikskole in Koh Tao, is die reën seisoen hier Desember/Januarie. In Julie is daar wel meer golwe, maar dis steeds redelik veilig, en boonop is die sig onderwater uitstekend! So die duik seisoen loop in die maand, en Koh Tao is vol opgewonde, eerste-keer duikers en ervare duikers wat terug kom vir die mooi waters en die lekker strand kuiers. Lees meer hier onder!

Thailand Toer Hoogtepunte in Julie

Die Helderste Duikwater is in Julie

As jy baie hou van duik, en jy wil besonders vêr onderwater kan sien , dan is Julie ’n goeie maand vir ’n duikvakansie in Koh Tao. Ons het dit self ervaar!

Wanneer jy duik, maak ’n wêreld van wondere vir jou oop. Van die kleinste koraal tot die groot seekranse, bedek met blou, pienk en rooi koraal, alles wil verken word.  Dus is dit belangrik vir enige duiker om vêr en duidelik te kan sien, en in Julie kan jy maklik tot 30 meter of verder sien.

En omdat Koh Tao as ’n eiland die see en haar gesondheid ernstig opneem, is die seebodem gesond en duik skole verantwoordelik.

As scuba nie jou koppie tee is nie, kan jy altyd snorkel, of selfs leer vryduik. Altwee opsies is gerieflik op die mooi eiland in Julie.

Wat is nog goed in Julie?

Wat van ‘n smarag groen Thailand toer? Chiang Mai en Mae Hong Song is baie groen in die tyd en as jy soek na sagte mis en woud-hotelle vir romanse en boeklees, dan is Chiang Mai or Chiang Rai perfek.  Wees net bewus van moontlike blitsvloede as jy in die berg naby watervalle sou wandel en vermy grotte.  

Junie en Jullie was nog altyd vir my lekker omdat dit ’n tyd is wat die markte  oorloop van tropiese vrugte soos Mangosteen en Longan. Dus is Bangkok, Ayutthaya of selfs die stad van Chiang Mai ’n goeie keuse, omdat hulle ’n groot verskeidenheid markte het en dus kan jy heerlik van mark tot mark toer en al die interesante tropiese vrugte leer ken.

Nasionale Feeste in Julie

Asahna Bucha, wat ook die begin van die Boedhistiese Vastyd is, begin gewoonlik in Julie, maar is die jaar in Augustus. 

Konining Maha Vajiralongkorn ( Rama X) se verjaarsdag word gevier op die 18de van die maand.

Augustus Toer// Ervaar Histories Siam

Augustus is steeds ’n nat maand, maar ek beveel ’n baie besonderse stad aan, net so 2 ure buite Bangkok. Vir R7 klim jy op ’n ou trein met vensters wat jou laat uitkyk oor die stad en dan die platteland tussen Bangkok en die ou hoofstad – Ayutthaya. 

Oggend in die ou hoofdstad, Ayutthaya

Thailand Toer Hoogtepunte in Augustus

Die Prag van die ou Hoofstad

Ayutthaya is ’n stad met baie wondere. Dis die ou hoofstad van Thailand en een van die ongelooflikste stede in Thailand (die land) omdat dit bestrooi is met ou klip tempels, adelike geboue en Chedies. 

Die stad wat geskei word deur riviere word beste beskou deur ’n sonsondergang rivierboottoer, of per fiets in die oggend.

Die parke met tempels, Boedha beelde en Boot-Noedel stalletjies is so na aan my hart omdat dit so pronk in sy histories Prag. Die plase en stadstrate maak beurte, en as jy jou tyd vat en die stad per fiets verken, gaan jy rys-velde, damme en lanings vol bougainvillia raakry. Die oggende voel magies en die sons-ondergange oor die tempels word ingesing deur die monnike wat binne die klipmure hulle eerbied betoon.

Die stad klim in jou gees in en laat jou nie maklik gaan nie. 

Wat is nog goed in Augustus?

Chiang Rai is ook ’n lieflike plek om te besoek in die reënseisoen. Die mees noordelike stad en gebied in Thailand het ‘n pragtige platteland en baie mooi tempels.

Dit is besonders bekend vir sy befaamde Wit Tempel, genaamd Rong Khun. Die tempel is so gedetailleerd en wit dit kom skoon voor asof dit uit marmer gekerf is. So teen die blou lug is die tempel perfek vir van die mooiste fotos.

Nasionale Feeste in Augustus

Asahna Bucha val die jaar op die eerste Augustus, en is dus ’n vakansiedag. 

Die 14de Augustus is die  Koninklike Moeder se verjaarsdag, en dus ook Moedersdag. Baie Thai mense dra lig pienk en blou om hulle eer aan haar te betoon.

September Toer// Luuksheid in Oorvloed

September is die natste maand in Thailand, en dus sou ek dit nie aanbeveel vir jou eerste besoek aan die land nie – tensy jy reën geniet soos ek doen.  Daar is baie mooi aan die land wanneer dit reën, en die tropiese weer maak die druppels koel en verwelkomend voel op jou vel.

Thailand Toer Hoogtepunte in September

Luukse Hotelle, borrelbaddens en sjampanje

Aangesien die hotelle en luukse boetiek-gastehuise uitstekende pryse het stel ek ’n luukse stadsvakansie voor – of ’n luukse eiland- vakansie.

Omdat Thailand gewild is onder die rykstes ter wêreld, weet hierdie besighede net hoe om verblyf in styl te doen. Van spa’s wat vir jou al wat ’n massering of gesig behandeling kan bied, tot teaters, “Hightea” en swembaddens wat ver bo die stad pronk. Thailand se hotelle is tops! En in September is dit baie beskostigbaar. 

So bestel die sjampanje en sjokelade en geniet jou bad terwyl die stadsliggies onder jou flikker.  Slaap laat en bestel ontbyt en cappucinnos terwyl jy terug leun in die “delux” grootte bed van jou suite.

Dalk is jy eerder lus vir ’n luukse bangalo in die woud. Phuket se Kameela bied vir jou ’n grandieuse nes. Op stilte hoog bo die woud het jy ’n suite so eg aan die natuur, dit lyk soos ’n groot nes. En wanneer jy hier bespreek word jy ten alle tye – dag of nag – op die hande gedra. 

Die ongelooflike hotel ervarings is so besonders omdat die kompetisie straf is en dus moet diens en verblyf altyd net verbeter.

Wat is nog goed in September?

Wel ons almal weet dat Suid Afrika van die beste branderplankryers in die wêreld het, maar as jy lus is vir tropies, en jy is in die land, is Phuket die beste opsie tussen Junie en September. 

Aangesien jy hier is kan jy netsowel jou verblyf in ’n mooi oord ervaar.

Nasionale Feeste in September

Op die 6-7 Augustus is die die opwindende langboot-resies in Ayutthaya. Thailand se Langbote (longboats) is smal en elegante bootjies waarin getoer, gekook en gereis word. Waar dink jy kom die naam “boat-noodle” vandaan? 

Beleef die resies in die prag-stad Ayutthaya en eet dan sommer soveel bootnoedels as wat jy kan. Heerlik!

Oktober Toer// Verken Pai

Oktober is die einde van die reënseisoen en van die mooiste tye om in Thailand te toer, omdat die woude, velde en lande gevoed is met maande se reën, en dus nog groener as gewoonlik is. Oktober is ook Trots Maand en Bangkok wys sy reenboog met trots en sy “Pride-parades” wat die res van die wêreld laat vervelig lyk. Maar kom ons begin by Pai.

Thailand Toer Hoogtepunte in Oktober

Verken Kleurrvolle en Alternatiewe Dorpie – Pai

Die dorpie is bekend vir twee dinge – die draaiende bergpad wat daarheen lei (As jy nie goed motorfiets kan bestuur nie, bespreek eerder vervoer tot hier), en die alternatiewe, nomadiese reisigers wat gaande is oor die dorpie.

Die dorpie het ook mense met baie talente – jy kan selfs hier leer jongleren (juggle). Maar wat dit so mooi maak is die baie uitstappies in die berge om die son te sien ondergaan. 

En dan is daar ook baie watervalle om in af te koel. Die area se watervalle het baie kleiner poele met gladde klippe waarin jy kan afgly.

Pai is ook bekend as ’n wonderlike plek vir “tubing” en na die reën- seisoen gaan Oktober die perfekte maand wees vir hierdie water- aktiwiteit.

Pai het ook ’n pragtige kloof om te verken. Die kloof se naam is Kong Lan, en wanneer die son begin sak, kom reisigers van oral oor Pai om dit van die vlakte bo die kloof te geniet. 

Wat is nog goed in Oktober?

In my opinie is Oktober ’n lieflike maand vir eilande in die Trat Provinsie. Daar mag nog reën val, maar dis minder en die gebied met sy blou water, groen woude en lieflike strande is baie romanties en minder vol as plekke soos Krabi of Koh Phi Phi Don.

Hier beveel ek Koh Chang aan. Dis ’n gunsteling vir myself, maar ook vir my Afrikaanse vriende wat al jare in Thailand woon. 

Die eiland is groot, groen en bekostigbaar. In Oktober het ek en my man ’n vroeë wittebrood gehou, omdat ons ons troue moes uitstel. En dit was lieflik! Die groot rivier met die hoë bome op die walle is perfek vir ’n romantiese roei-sessie, en die strande skoon en oop vir pieknieks of laat aand wandelings. Die eiland het ook een van die mees eksotiese hotelle in Thailand, en ek gaan nog ’n volledige artikel oor die juweel van hout skryf. Maar sit solank vir Koh Chang op jou toerlysie vir Oktober, Januarie, Februarie of Maart.

Nasionale Feeste in Oktober

Dit is vir my wonderlik hoe “gay-vriendelik” Thailand is en die Bangkok Trots Fees word baie geniet en gevier deur my vriende en geliefdes. Met rivierboot partytjies op die Chao Phraya rivier, en “drag-shows” met die mooiste vertonings en kostuums. Dis ’n vrolike en mooi affêre, en iets wat ek hoop jy eendag sal bywoon of ondersteun. Datums moet nog bevestig word. 

Bangkok en sy mense vier ook vegetariese en “vegan” kos-keuses en in Oktober word daar ’n groot Sjinese Fees gehou om dit te vier. Maar die Fees is nie vir die lig-van-gees nie omdat baie gelowiges hulleself doelgerig beskadig as deel van die rituele.

 Ek stel eerder een van die beste Vegan feeste in Thailand bekend – Root The Future en die Jae (Jay) Fees. Die feeste oorvleul mekaar en dus kan jy albei bywoon. Bangkok het my voorgestel aan vegan kos en dis iets wat my heeltemal oorrompel en verlief gemaak het op plante eet. Die disse is vars, geurig en altyd verbasend lekker. ’n Thailand toer kos ervaring wat jy nie moet misloop nie. 

November Toer// Beleef Die Fees van Liggies

In November vier Thailand een van die mooiste Feeste in die wêreld, bekend as die Liggiesfees, of Loy Kratong. Dus beveel ek ‘n November Thailand toer hoog aan!

Duisende mandjies/bootjies word uit piesangboomblare gevou en verfraai met blomme en origami blaarkuns vir die Liggiesfees. Dan word die mandjies na die rivier of see geneem, en ’n kersie word aangesteek en op die bootjie geplaas, en saam met honderde ander bootjies word ’n kersie en ’n gebed in die donkerte van die nag ingestuur.

Parke, riviere en waters oral word in sagte kerslig bedek. Tempels versier hulle gronde met honderde kerse en ligte. Daar word geskryf op lanterns van alle kleure en dan in die tempels orals oor Thailand gehang. Dis so besonders om te aanskou of om deel te neem daaraan.

Kry ‘n fiets en ry Chiang Mai plat!

Thailand Toer Hoogtepunte in Oktober

Die Liggies en Tempels Van Chiang Mai

Een van die mooiste plekke om die Fees te ervaar is Chiang Mai. Die stad se histories tempels het van die mooiste rituele tydens die fees, en om die vrolike gees in die berge te ervaar is regtig iets besonders.

Chiang Mai het die grote Peng rivier wat daardeur loop, en op sy wal word die bootjies uitgestal en reg vir reisigers om te koop. Ongelukkig kan rivierbesoedeling ’n probleem wees en Thailand is nog besig om reëls neer te lê wat kan help om sulke Feeste meer eko-vriendelik te maak. 

Ek dink steeds dis ’n belewenis en definitief die moeite werd om eenkeer in jou lewe te sien.

Bangkok En Loy Kratong

Bangkok is ook ’n wonderlike keuse as jy die fees wil bywoon. Omdat die groot Chao Phraya rivier deur Bangkok loop, kan Loy Kratong enige plek gevier word. Dalk kan jou Thailand toer albei plekke insluit, omdat dit net ‘n 2 uur vlug vanmekaar af is.

Deur die loop van die dag word die parke, strate en markte versier met honderde blommandies en kerse. Sommige baie ingewikkeld en statig, ander baie basies. Dis altyd vir my lekker om te stap en te kyk hoe vriende en families saam sit en die mandjies maak om te verkoop. 

Wanneer jy by ’n luukse hotel bespreek, word daar soms mandjies as deel van jou besoek ingesluit, en dus is dit nie nodig om een te koop nie. 

Wat is nog goed in November?

Alles is goed in November. Die weer is koel en reis, swem of wandel is alles gemaklik en mooi.

Dus kan jy enige eiland kies en heerlike weer verwag. Jy kan die hele maand in die Noorde spandeer en van die bergstamme se kulture leer ken. 

Daar is baie toere wat jou na sulke besonderse bergstamme vat en jou laat oorbly by ’n gesin en meer leer oor hulle manier van leef en werk. Dis ’n ervaring wat hoog op my lysie is.

Nasionale Feeste in November

Behalwe vir Loy Kratong, vier Lopburi die jaarlikse Aap Banket. Gedurende die Fees, word ’n lang tafel vir die diertjies gedek, en hulle kan die kos en lekkernye vrylik geniet. Toemaar, daar is ook kos vir die mense beskikbaar by baie stalletjies. En natuurlik, as daar geëet word, word daar ook gedans.

Desember Toer//Ry die Mae Hong Son sirkel

EK het die beste vir laaste gehou. Desember is my gunsteling maand in Thailand. Dis koel, sonnig, vars en die natuur is op sy mooiste – groen na die oorvloed van reën en vrolik as gevolg van die koeler weer. 

Thailand Toer Hoogtepunte in Desember

Ry die Mae Hong Son sirkelpad per motorofiets

Desember is dus ’n lieflike tyd vir ’n pad-toer in die groen bergpasse en klowe van Mae Hong Son. Huur ’n motorfiets en ry die draaierige pad saam met ’n geliefde.

Die hele sirkelpad is ongeveer 600 km lank en kan tussen 4 en 6 dae neem om te voltooi. Ek stel voor jy vat langer, en geniet kamp en wandel so tussen deur die ry.

Met die lieflike weer in Desember is die oggende mistig en koel, en Mae Hong Son het van die mooiste kampterreine langs mere wat eufories vertoon onder die oggend mis. Pang Ung is bekend as ’n baie romantiese kampplek in die area, en ek kan my net verbeel hoe lekker daardie eerste koppie koffie langs die stil water gaan wees.

Bly oor in Ban Rak Thai

Ban Rak Thai staan bekend as ’n kulturele mengsel van Thai en Sjinese afkoms en dus word die meer, wat voor die slapende dorpie lê, bedek met Thai bootjies wat rooi sjinese vlaggies dra. 

Die dorpie het tee plantasies en hout huisies wat die walle van die meer bedek, en die uitsig vanaf die huisies is prentjieboek mooi.

In my opinie is dit die mooiste dorpie in Thailand – maar ek het nog self baie om te sien.

Wat is nog goed in Desember?

Om Kersfees te vier in Bangkok is wonderlik, so ‘n Thailand toer in die 12de maand is ‘n magiese ervaaring! Die stad word bedek met kreatiewe dekor en versierings. Massiewe Kersvaders staan 2 verdiepings hoog, en Kersmusiek speel in die strate, treine en parke.

Skole bedek hulle ingange met rooi en goue versierings en winkels maak hulle spoggerig vir die Feesseisoen. Kerstyd is wonderlik in die tropiese land en laat jou skoon soos ’n kind voel. 

Wees sterk, want die Thai mense oorval die winkels om te koop, te kuier en fotos te neem. Maar as jy nie omgee vir baie mense nie, is dit lekker om die bekende, mooies en stylvolles te sien in al hulle Kersfees glorie.

Nasionale Feeste in Desember

Behalwe vir Kersfees vier Thailand ook die oorlede Koning se verjaarsdag op die 5de Desember. Hulle was ongelooflik lief vir die koning en sy goedheid word steeds gevier en ernstig opgeneem in Thailand. 

Met Kersfees kom die toeriste vir hoog seisoen en dus styg die hotel en vervoer pryse – so bespreek vroeg as jy kan.

So die Beste Tyd vir jou Thailand 2023 toer is?

Soos jy kan sien is Thailand werklik ’n plesier enige tyd van die jaar, maar as jy besonderse dinge wil ervaar stel ek voor jy beplan mooi en bespreek vroegtydig. Volgens TAT (Tourism Authority Thailand) en my eie ervaring, is die toerisme hoë seisoen vannaf November-Maart. So die beste tyd vir jou Thailand toer gaan afgang van wat jy wil ervaar, hoeveel jy wil spandeer en of jy kaans sien vir baie mense of nie.

My gunsteling maande vir ‘n Thailand toer is tussen November en Januarie, maar ek is ook baie lief vir die reënseisoen en dink eintlik Thailand is besonders enige tyd van die jaar. Dit hang net af wat jy soek!

As jy enige vrae het oor Thailand of belangstel om meer te leer oom Thailand toere, stuur vir my ’n epos of kontak my op Instagram. Ek help graag!

Lekker en veilig toer 2023!